Dolosfees al weer aan die rol
Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Zululand Observer kantore, Hairstreaks en That Shoe Shop in Meerensee.
WINTER is om die draai en dis tyd vir die jaarlikse Dolosfees wat besoekers van landswyd na Richardsbaai lok met uitsoekvermaak en ‘n kans vir binnelanders om in die see te kom loop of selfs te swem, soos party se gewoonte is.
Kunstenaars soos Ray Dylan, Manie Jackson, Adam Tas, Theuns Jordaan en Nicholis Louw het al ‘Richardsbaai’ in hul dagboeke geskryf en bêre hul beste passies vir die jillende skares wat by die Richardsbaai Rugbyklub sal bymekaar kom van Donderdag 30 April tot Saterdag 2 Mei.
Vrouestemme soos Sally Vaughn, Andriette Norman en Cheree Strydom is ook op die spyskaart van 14 gewilde sangers wat op Verhoog 1 in die groot markiestent gaan optree.
Donderdagaand kan alle Country aanhangers nader skuif vir Ray Dylan, Tommy Dell, Sally Vaughn en Manie Jackson.
Buster die Brak swaai die Vrydagoggend om 10vm sy stert en kinders onder twaalf kan die vertoning gratis bywoon.
Vrydagaand gaan die Baai ‘rock’ met Adam Tas, Wynand en Cheree Strydom, Andriette Norman, Wicus van der Merwe en Pieter Smith.
Saterdag beloof ‘n allegaartjie van style wat in almal se smaak sal val met Matthew Mole, Theuns Jordaan, Nicholis Louw, Dewald Wasserfall en Jacques du Plessis in aksie.
Op Verhoog 2 tree die plaaslike Dance Inc op saam met opkomende kunstenaars soos Michelle, Jaco, Jakes, Zane B, Elso Viljoen, Linda Kilian, Jasmyn en Anti-Hijacking.
Zululand Got Talent word ook op Verhoog 2 aangebied om plaaslike opkomende talent ten toon te stel.
Naweekkaarties van Donderdag tot Saterdag is beskikbaar teen R250 per persoon.
Ander vermaak sluit in die Empangeni ‘marching band’, ‘n wyn en sjampanje tent, boeresport en ‘n kindertent met ‘n oppasser sodat almal die fees kan geniet.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Zululand Observer kantore, Hairstreaks en That Shoe Shop in Meerensee.
Vir meer inligting, kontak Elize Boshoff by 083 635 5358 of besoek www.dolosfees.com.
https://youtu.be/-hQIWefRXMA
