EntertainmentLifestyle

Steve Hofmeyr doen sy ding in die Baai

Steve se opskop in Zoeloeland.

Dit was ‘n bedeesde groep mense wat Woensdagaand in Richardsbaai Hoërskool se skoolsaal bymekaar gekom het om na Steve Hofmeyr te luister.

Glad nie uitspattig nie.

Dié tipe wat jy eintlik nog dames en here kan noem.

Voor die vertoning het hulle netjies tougestaan om pannekoeke en worsrolle te koop.

Niemand het kakieklere gedra nie en daar was ook geen ‘ducktails’ nie.

Om ‘n hoekie waar twee vrouens gestaan en rook het, het die een gesê as Steve op die verhoog stap sy gaan opspring en gil, ‘Steve jy’s my pa!’.

Daar was nie drank te koop nie.

Niemand het Steve sien aankom nie want hy het opgedaag in ‘n ongemerkte Toyota Corolla – die ou vorm – en by die skoolsaal se agterdeur ingeglip.

Net so duskant sewe het almal hul sit gekry.

Die skoolsaal was stampvol maar stil, soos met ‘n begrotings vergadering.

Toe Steve op die verhoog verskyn het ‘n groepie vrouens gegil, maar nie een van hulle het geskree ‘jy is my pa’ nie.

Hy lyk nie meer soos Bruce Beyers van Agter Elke Man nie want hy het hierdie jaar 50 geword.

Tog, ‘n goeie 50 en hy het die mense daarop gewys dat hy begin sing het toe Bok van Blerk maar 11 was en Bobby van Jaarsveld net twee jaar oud.

‘n Halfuur in die vertoning in het almal nog steed gesit.

Nostalgie

Steve het die nostalgie perd holrug gery, en terwyl hy Agter Elke Man gesing het, het Antie Stienie se gesig op ‘n groot skerm verskyn.

Sy het vir Bruce Beyers gesê om sy hande uit sy sakke te haal want hy is nie ‘n krieketspeler nie.

Toe slaan hy oor na Engels, en met sy vertolking van Neil Diamond se Kentucky Woman uiteindelik geslaag om bietjie lewe in die mense te blaas.

As daar iemand is wat Neil Diamond se liedjies kan sing, is dit Steve.

Elvis ook

Sy weergawe van Suspicious Minds sal die beste Las Vegas Elvis nabootser laat skaam kry.

Driekwart deur die vertoning het die mense nog steeds gesit.

En die vrou wat dink Steve is haar pa het ook nog nie van haar laat hoor nie.

Hy het die mense gevra wat hulle wil he hy moet sing?

‘n Dogtertjie het gevra vir Die Stem en ‘n tannie vir die Blou Bul se Horing.

Hy het toe geantwoord op die roepstem en oplaas ten minste die helfte uit hul stoele gekry.

Steve het dit duidelik gemaak dat hy nie ‘n politikus is nie, maar eerder ‘n patriot.

Terwyl hy gepraat het, het ‘n video op die groot skerm agter hom hom gewys waar hy kitaar oor die skouer deur die veld stap.

Twee skape het hom gevolg – ‘n witte en ‘n bruine.

Toe los hy die politiek en begin weer sing – Liefling van Gé Korsten.

Die mense het daarvan gehou en was weer gesete.

Sy laaste liedjie was Pampoen. Afrikaans se ‘stukkende skoene’ en ‘trekkers wat se tyres lek’…

Niemand het geskree ‘Steve vir president’ nie, en die vrou wat dink Steve is haar pa, is huistoe.

Check Also
Close
 
Back to top button
X

 .

CLICK HERE TO ENTER