Padlangs: Van dansende oliebolle en sulke dinge
Vele jare gelede as spesialis sportskrywer vir verskeie hoofstroom koerante, het ek met baie sportmanne en -vroue te doen gehad. Elke sportsoort het sy karakters gehad, maar die ouens wat ons daardie tyd die meeste vreugde verskaf het was die boksers. Dis nou die dae van Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jimmy Abbot, Mike Schutte, Arnie …
Vele jare gelede as spesialis sportskrywer vir verskeie hoofstroom koerante, het ek met baie sportmanne en -vroue te doen gehad.
Elke sportsoort het sy karakters gehad, maar die ouens wat ons daardie tyd die meeste vreugde verskaf het was die boksers.
Dis nou die dae van Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jimmy Abbot, Mike Schutte, Arnie Taylor, Charlie Weir, Harold ‘The Hammer’ Volbrecht en ons eie Freddie Rafferty (Horn) – om net ‘n paar te noem.
Ongelukkig is dit so dat daar van die publiek se kant af ‘n persepsie heers dat manne wat tussen die toue veg nie altyd geseënd is met ‘n oorvloed van grysstof nie.
Met ‘n paar uitsonderings is dit bloot net nie waar nie. Knoetze en Schutte, byvoorbeeld, het ‘n vlymskerp humorsin gehad. Dit is net dat boksers oor die algemeen aan die rowwe kant van die spoorlyn groot word en nie wye blootstelling het aan die fyner nuanses van die lewe nie.
So was dit met Jimmy Abbott – een van my gunsteling stories.
Byname
My kollega Geoff van Heerden was ‘n groot kenner van boks, maar ook ‘n kreatiewe skrywer.
Hy het boksers byname gegee wat mettertyd wêreldwyd gebruik is. Hy was byvoorbeeld die man wat Kallie Knoetze die ‘Bek van Boomstraat’ gedoop het.
Van Heerden het bietjie rondgeval met Abbot. In ‘n stadium het hy die oorwigtige reus die ‘Ambling Mine Dump’ begin noem. Daar was geen beswaar van die Abbot-kamp nie.
Om een of ander rede verander hy dit toe na ‘the Dancing Doughnut’.
Dit was ‘n fout. Toe ons die een middag opdaag vir ‘n Abbott skermsessie voor ‘n groot geveg, gryp Jimmy vir Van Heerden aan die bors en wou weet wie die sportskrywer was wat hom ‘n dansende oliebol noem? Van Heerden ontken vanselfsprekend heftig dat hy die skuldige is (Abbott kon maar net na die artikels gekyk het om te weet).
Abbott dreig toe dat hy die volgende ou wat hom ‘n oliebol noem se kop van sy lyf af gaan moker.
Van Heerden skryf toe (in Engels, want dit was by die Citizen koerant): ‘Jimmy the Dancing Doughnut Abbott yesterday took exception to the fact that he is being referred to as the Dancing Doughnut.
‘We take note that the Dancing Doughnut does not want to be called the Dancing Doughnut and shall henceforth refrain from calling the Dancing Doughnut the Dancing Doughnut.’
Hy gooi toe nog ‘n paar ‘dancing doughnuts’ in om sy punt te verstewig.. ‘Jy gaan sterf,’ deel ek my kollega mee.
‘Moenie ‘worry’ nie,’ seg hy vol vertroue.
Ek ‘worry’ – veral toe Goliat Abbott die vertrek die middag volstap. Sou my vriendskap sterk genoeg wees om in te spring wanneer Van Heerden se liggaam bloedig verbrysel word?
‘Hey Jimmy,’ skree Van Heerden toe Abbott die gym in stoomroller. ‘Did you read my article?’
‘Hey, ja man, thanks a stack, Geoff my mate,’ bulder the ‘dansende oliebol’.
Verlore nuanses inderdaad.
