BlogsOpinion

Padlangs: Jan Taks steel Moses se kopiereg

Die lewe is nie vir sissies nie. Ook nie die hiernamaals vir sondaars nie (so sê hulle). Van die oomblik dat jy Sondagskool bywoon en redelik begin verstaan waaroor die dominee se dreigemente van die kansel af gaan, kom jy tot die besef dat daar vir altyd ‘n swaard van oordeel oor jou kop hang. …

Die lewe is nie vir sissies nie. Ook nie die hiernamaals vir sondaars nie (so sê hulle).

Van die oomblik dat jy Sondagskool bywoon en redelik begin verstaan waaroor die dominee se dreigemente van die kansel af gaan, kom jy tot die besef dat daar vir altyd ‘n swaard van oordeel oor jou kop hang.

Dit begin met die Tien Gebooie. En soos jy ouer word besef jy dat die menslike natuur en die Tien Gebooie nie groot pêlle is nie.

Van ‘n aardse perspektief is die gebooie eintlik, soos die Engelse dit sal verwoord, ‘n regte ‘party pooper’.

Net sodra jy iets oordadigs lekker wil doen, maan Moses se klipgeskrifte jou (hopelik) tot besinning en verveling.

Dis wel waar dat sommige van die wette okay is. Die meeste van ons wil darem nie doodslaan nie (so nou en dan is die begeerte wel daar om die baas, die idioot voor jou in die pad of die wederhelf ‘n doodskoot te gee, maar ons weerhou ons daarvan.). Die meerderheid mense het respek vir hul vaders en moeders, gebruik die naam van die Here nie ydellik nie en so aan.

Van die wette is ook op die oog af maklik om te onderhou, totdat dieper denkenke mense soos vriend Vet Vasie alles bederf met hul ontledings.

Die VVV riglyne

Ons dink nie ons het ander gode wie ons dien of voor wie ons buig nie, maar wat van – aldus VVV (Vet Vasie se Voorligtingriglyne) – die goue gesnede Wêreldbeker, Super 15 en Curriebeker rugbybeelde wat ons verafgod?

Is daar vergewende begrip by die ou wat ons ontugtighede in die Groot Boek aanteken wanneer ons stokkiesdraai pleeg by die kerk om ons span se ‘game’ in Nieu-Seeland of Australië op TV te volg?

Die meeste van ons weerstaan die egbreuk ding, maar gonna, wanneer jong buurvrou Bettie Borslyfie in haar tanga bostukloos langs die swembad lê en verleidelik vir die son pronk terwyl jy aan die heining timmer, spring die slang van versoeking dadelik op aandag en besoedel jou reine denke met bose gif lank voor jy hakkelend ‘wyk satan’ kan uitroep. Wie wil nou ook stry teen Hooglied 7:7 se ‘ Jou lenige lyf is soos ‘n palmboom, jou borste soos druiwetrosse…’

En hoewel buurman gelukkig nie meer ‘n os of ‘n esel besit wat jy kan begeer nie, veroorsaak sy rooi Ferrari tog onnodiglik verdere treitering net sodra jy met moeite daarin geslaag het om Borslyfie se vreugdevolle visuele bates van jou hardeskyf uit te vee.

Nou kom ons tot die eintlike punt. Terwyl ons ons nimmereindige stryd teen die sonde vanuit ‘n Bybelse oogpunt gelate moet aanvaar, is dit darem nie regverdig dat die Minister van Finansies nou elke jaar ook op die Sonde Ekspres Soustrein klim om ons lewens verder te versuur nie.

Wie word elke jaar die hardste met sy ‘sin tax’ gemoker? Ons ou sondaars wat dan en wan net bietjie wil makietie hou om die sorge van die lewe te hanteer.

Mens eis net vir die dag wanneer hy ons begeertes ook wil belas. Dan is ons in kafstraat.

 
Back to top button
X

 .

CLICK HERE TO ENTER