KLEINJAN Combrinck se droom is om ‘n goue medalje by die Olimpiese Spele te wen – en vir die volgende drie jaar is dit sy doel om te kwalifiseer vir die 2016 Olimpiese Spele.
Wanneer ‘n mens kyk na sy stoeiloopbaan van 6-jarige ouderdom af, is dit duidelik dat hy hierdie droom kan verwesenlik.
KleinJan loop oor van natuurlike talent en sy ouers ondersteun hom met baie liefde en opoffering die afgelope 12 jaar.
In Graad 1 het hy sy eerste goue medalje verower en daarna is hy aangewys as die kampioenstoeier in sy afdeling in KwaZulu-Natal en by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe het hy ‘n silwer medalje ontvang.
Op 11-jarige ouderdom het hy sy eerste goue medalje verwerf tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe en sedertdien het hy al 19 keer die nasionale titel ingepalm.
Op 15-jarige leeftyd het hy Springbokkleure verwerf en vir die 0/17 stoeispan deeelgeneem aan die 2010 Afrika Kampioenskappe in Egipte. Tydens dié kompetisie het hy ‘n silwer medalje verower. In 2011 het hy die Suid-Afrikaanse span in Hongarye verteenwoordig en in 2012 het hy saam met die Suid-Afrikaansespan na Turkye getoer.
Tydens die 2012 Afrika Kampioenskappe het KleinJan deelgeneem in Madagaskar waar hy ‘n goue medalje verower het en weggestap het met die titel – Afrika kampioen! Hiermee het hy gekwalifiseer vir die Wêreldkampioenskappe in Azerbaijon waar hy 8ste posisie onderskeidelik in Vrystyl en Grieks Romeinsestyl verwerf het.
In 2013 is hy genooi om in die Verenigde State van Amerika te stoei, maar hy moes onttrek nadat hy sy gewrig in ‘n rugby wedstryd gebreek het.
