Kultuurfees in die Baai
Local is lekker- Solidariteit Helpende Hand se 2015 Kultuurfees word van stapel gestuur.

BOERESPORT, toutrek, potjiekoskompetisie, ‘n sterkmankompetisie en Afrikaanse musiek – dit alles is op die spyskaart vir Richardsbaai Solidariteit Helpende Hand se jaarlikse kultuurfees op 28 November by die Richardsbaai Rugbyklub.
‘Ons sien daarna uit om die geleentheid te vier saam met almal wat ‘n diepgaande liefde het vir talent, kuns, tuisskeppings en musiek,’ sê Tina de Beer, die Voorsitter van die Richardsbaaitak.
Die organisasie hoop om uiteenlopende tale en kulture bymekaar te bring.
‘Wedersydse begrip bring ‘n verandering in gesindheid mee, om te bou aan die groter legkaart van ‘n wêreld waar ons mekaar as medemense in ag neem.
‘Dit is die oogmerk met hierdie kultuurfees projek.’
Watertand tradisionele kosse soos braaivleis, jaffels, kerrie-en-rys, koeksisters, toffie-appels, spookasem, gemmerbier, biltong, wildvleis en vars plaasmarkprodukte, sal te koop aangebied word.
Plaaslike vermaakkunstenaars, skoonheidskompetisies, ‘n oupa en ouma kompetisie, skattejag, tombola en kuns is ook op die program.
Vlooimarkstalletjies kan nou al bespreek word en borge word uitgenooi om van die geleentheid gebruik te maak om wye plaaslike blootstelling te verseker deur verskeie advertensiemediums.
Die fondse wat ingesamel word sal aangewend word vir die verliging van armoede in die gemeentskap.
De Beer kan gekontak word by denoma@telkomsa.net.
