Hy glo in spoke, alhoewel hy hulle self nog nie met die oog gesien het nie, maar hy het al ‘n paar ‘rillende ervarings’ met die bonatuurlike gehad wat sy nekhare laat orent staan het.
Dié dat een van sy CDs Spooknote heet.
Pieter Smith, wie Vrydag aand by die jaarlikese Dolosfees op die planke is, is amper met kitaar onder die arm gebore.
Steve Hofmeyr het hom bestempel as een van die land se mees begaafde liedjieskrywers.
Met CDs soos Alles wat gejaagd is, Rooikar en Man op die maan onder die belt, kan hy beslis sy aanhangers op die tafels laat dans en saamsing, al is party bietjie vals, soos sommige Boerklonge wat eerder klink of hulle bulk.
Die Zululand Observer het by Pieter gaan aanklop om te hoor waarmee hy op die oomblik spook, aangesien dit sy belang-stellingsveld is.
Spookboeke is ook sy koffietafel literatuur en sy eie liedjies vertel ou bekende Suid-Afrikaanse spookverhale soos Antjie Somers en die Vlieënde Hollander, wat baie van ons as kinders al in die donker gang laat afhardloop het.
Pieter sê, ‘Ek is tans besig om te skryf aan my nuwe CD wat net oorspronklike liedjies gaan bevat en hoop om die album op die rakke te hê teen die einde van die jaar.’
Pieter is ‘n groot hengelaar met ‘n passie vir diepsee hengel en is goed bekend met Richardsbaai.
‘Ek love die plek en sy mense en sien baie uit na die Dolosfees. Dit is ‘n groot voorreg om deel te wees van so n great fees.’
