Padlangs: Diepe denke oor boudpuisies
Met die aankondiging van die verkiesingsuitslae verlede naweek, kon dit nie anders nie dat die land se vooraanstaande dinkskrum – dis nou ekke, Vet Vasie, Disselboom Daan en Groot Gert – diepe denke en voortreflike evaluasies om die braaivuur moes toepas. Dit is ons nasionale plig om sinvolle uitkomste te identifiseer en hierdie inligting met …
Met die aankondiging van die verkiesingsuitslae verlede naweek, kon dit nie anders nie dat die land se vooraanstaande dinkskrum – dis nou ekke, Vet Vasie, Disselboom Daan en Groot Gert – diepe denke en voortreflike evaluasies om die braaivuur moes toepas.
Dit is ons nasionale plig om sinvolle uitkomste te identifiseer en hierdie inligting met ons mede-Suid-Afrikaners te deel sodat hulle minder verward kan wees.
Uit die staanspoor het ons voorspel dat die ANC nie onder 60% steun gaan ‘dip’ nie.
Vasgevang in emosionele geesdrif het ons DA en Vryheidsfront Plus pelle blindelings geglo dat die volk se moerigheid met Jacob Regop se ‘pimp my kraal’ dinge in Nkandla, swak dienslewering en inploffing van sleutelsektore soos onderwys, sekuriteit en mediese dienste, genoegsaam was om Nommer 1 en sy kornuite (comrades) ten minste ‘n bloedneus te gee.
Ons dinkskrum het geduld met die oningeligtes, juis omdat dit ons roeping is om – sonder vergoeding moet ek darem byvoeg – leiding te verskaf met pêrels van wysheid.
Wat ons vrinne en die volk daarbuite telkens vergeet is dat politieke tendensverskuiwings langsame prosesse is (uitgesluit natuurlik sporadiese befonktheid soos tydens die Arabiese Lente toe die kameeljoggies se ongedurigheid die vrede versteur het).
Die rede hiervoor is dat mense se oordeelsvermoë rakende politieke sake vertroebel raak deur hoopvolle versugtinge instede van rasionele feite.
Basies is dit maar ‘n kwessie van ‘plebis es bardus’ (die massas is onnosel).
Terwyl Antie Helen se party opgekikker is met hul goeie vordering, sukkel die Boere se enigste vesting, die VF+, om nie verplig te word om die minus simbool agter hul naam te moet plaas nie.
Vet Vasie argumenteer met reg dat as al die Boerestemme wat tans strategies na die DA toe gaan weer heradresseer kan word, die Vryheidsmanne darem ‘n hengse vuuurpyl in hul agterstewe sal kry wat goeie momentum sal verskaf.
Inderdaad.
Wat die dinkskrum eenparig oor saamstem is dat die Parlement nou anders daaruit gaan sien noudat jong spreektrompet Julius en sy ekonomiese kleuterskool die statige gange van die Bewind gaan betree in hul konstruksie ‘hard hats’ en overalls.
Nee kyk, selfs Groot Gert gee toe dat Jacob se boudpuisie homself nie laat onderkry nie.
Hier kom ‘n ding!
