BlogsOpinion

Padlangs: Die wysheid van Vet Vasie

Noudat die Prez 7 Mei aangekondig het as stemdag en politici met mening hul lieglêers afstof, maak vriend Vet Vasie nogal ‘n interessante opmerking om die braaivleisvuur. Nadat hy eers sy gebruiklike gesigsuitdrukking van diepe denke laat raaksien het, seg hy die Afrikaner stem weer ‘n faktor gaan wees. Dit het die manne verward aan …

Noudat die Prez 7 Mei aangekondig het as stemdag en politici met mening hul lieglêers afstof, maak vriend Vet Vasie nogal ‘n interessante opmerking om die braaivleisvuur.

Nadat hy eers sy gebruiklike gesigsuitdrukking van diepe denke laat raaksien het, seg hy die Afrikaner stem weer ‘n faktor gaan wees.

Dit het die manne verward aan hul skuimkoppe laat teug, want om wysheid met so ‘n stelling te versoen was met die eerste oogopslag bra moeilik.

Uit ordentlikheid was swygsaamheid en ‘n getuur in die vuur die wagwoord, want VV is darem ‘n pel.

Om te dink dat die Afrikaner nog ‘n ‘swing vote’ kan uitpluk is bloot net ‘n optimistiese fantasie. Sedert ou Kortbroek die Afrikaner Verkiesingshuis afgebrand het en sy intrek by die vyand geneem het, swerf die Boere huisloos in die woestyn rond.

‘n Beperkte groep kakiemanne – dis nou die hedendaagse Afrikaner wat na aan die grond lewe en die land se kosmandjie teen alle verwagtinge in vol hou en nie die ou Engelse militêre insypelaars nie – kon met relatief min pyne hul plek by die Vryheidsfront Plus (VF+) vind, maar die verligte Afrikaner Wabenzis met hul donker en grys pakke moes uit noodweer heiligskennis pleeg.

Na die Kortbroek kaskenades het hulle geen uitweg gehad as om by die ou Progge te gaan tent opslaan nie (vergewe ons, NP vaders, want ons weet nie wat ons (kon) doen nie).

Maar ou Vettes – sy naam word veelsydig aangewend afhangende van die manne se bloedinhoud in hul alkohol – is nie ‘n man vir ondeurdagte argumente nie. Hy staaf sy stellings.

Spies in die voet

Hy reken omdat JZ homself nie daarvan kan weerhou om homself gedurig in die voet te steek nie (hy verkies nog sy tradisionele spies bo vuurwapens), die DA nou bloed ruik.

Dis nou nie dat die ANC enigsins oop genoeg is vir ‘n uitklophou nie, maar met die volk wat toenemend in die strate murmureer, sien die DA ‘n klein gaping vir ten minste ‘n bloedneus.

Na Vet Vasie ‘n kort verposing toelaat vir ‘n teug van kontemplasie en instemmende knik van koppe, lig hy sy vinger soos ‘n ware staatsman vir die sluitingsargument en sy geliefkose ‘I rest my case’.

‘Mens kan die DA natuurlik nie verkwalik nie want sonder ‘n opwelling van swart ondersteuning is dit ‘anyway tickets’, maar in hul fokus om na die ontevrede swart stemme te vry is hulle terselftertyd vinnig besig om hul aansienlike Afrikaner ondersteuningsbasis te vervreem,’ verkondig VV.

‘Die beste voorbeeld hiervan is die feit dat Sir Div se nasate in hul ywer nou skielik grondeise steun. Nou kyk, as jy die Boere hoogs de moer in wil maak, dan peuter jy met hul grond. En moenie ‘n fout maak nie, die Boere in beton raak net so die hel in in simpatie met die ouens in hul trekkers. Ek sê julle nou, Antie Helen gaan nog jammer wees dat sy tekkie toyi-toyi soveel hoër ag as volkspele. En die VF+ smile al die pad.

‘I rest my case.’

 
Back to top button
X

 .

CLICK HERE TO ENTER