BlogsOpinion

Padlangs

Wonder waar al die ouens vandag is - aldus die wat nog lewe.

Dinge begin stadig maar seker opwarm vir die begin van die nuwe rugby seisoen. Hoog tyd ook want die ontrekkingsimptome raak net te erg.

Selfs krieket, wat moet instaan om ons staande te hou oor die feesgety, is in hibernasie en die vet weet, Bafana Bafana dryf mens net tot depressie.
Ou Smittie en Whitey in Durbs het darem die gesprekke aan die gang gehou met gerugte dat hulle ou Suurbek Watson in die Shark tenk wou loslaat, maar mens vermoed dit was net ‘n oomblik van waansin nadat hulle per abuis gras gerook het.
Bakkies Botha en nou Victor Matfield se moontlike terugkeer vir die Bokke laat baie ondersteuners ook wonder of Heyneke nie self per ongeluk medisinale produkte inkry wat hallusinasies aanmoedig nie.
Dis hoekom die seisoen moet begin, sodat dinge duidelik kan word en braaivleis bekgevegte op werklike feite gebasseer kan word.
En die ander belangrike rede waarom ons rugby nou spoedig in ons lewens nodig het, is die feit dat dit amper verkiesing is. Niemand sal staande kan bly teen die tsunami van tjol wat die politici nou gaan kwytraak nie, dus moet rugby vir ons sielkundige ewewigtigheid verseker.
Terwyl ek hierdie dinge oor ‘n glas gefermenteerde druiwesap kontempleer, vat die nostalgie my na die dae toe ek nog self gespeel het (Harlequins in Pretoria en De Beers in Kimberley) en nou by die spel betrokke was as rugbyskrywer en televisie sportverslaggewer.
Toe was rugby nie so gekompliseerd nie.
Toe was spelers net normaal groot en sterk want daar was toe nie al die pille en poeiers wat sportmanne vandag almal fisiek in ‘Hulk’ klone verander nie.
Die ‘coaches’ was die dieëtkundiges, want daar was ‘n eenvoudige universele wysheid – eet steak en tjips vir energie voor ‘n game.
Refs het die skrums uitgelos want die manne het self sake daar uitgesorteer, en fluitjieblasers was soms doelbewus bysiende wanneer ‘n moeilikheidmaker gou reg getimmer is.
Om kopdokters in te roep vir ’emosionele regstelling’ was iets vir bruilofbeplanners en het sielkundige berading bestaan uit ‘n bedonnerde ‘coach’ wat gatskop.
Maar wat ek die meeste mis, is die name.
Waar is vandag se Biesiepol Pretorius (Stellaland se losskakel), Boerpens Strydom (Suid-Oos Transvaal se vleuel), Kookwater Louw (Noord-Wes Kaap se senter), Skilpad Eloff (Junior Springbok) en snare soos Ghriespomp van der Merwe en Baksteen Smit (kan nie meer onthou watter provinsies hulle verteenwoordig het nie).
En plaaslik? Wie kan nog die Noord-Natal span onthou wat geskiedenis gemaak het om in 1976 die eindronde van die Sport Pienaartrofee te haal slegs twee jaar na hulle provinsiale status verwerf het? Goebels Kritizinger en Matras Pretorius het vir hulle gespeel.
Wonder waar al die ouens vandag is – aldus die wat nog lewe.

 
Back to top button
X

 .

CLICK HERE TO ENTER